Skip to content Skip to footer
IN THE MEDIA

Mooiuitsig beurse gee Bonnievalers se toekomsdrome vlerke

14 studente het letterlik nou ‘n mooi vooruitsig danksy tersiêre beurse wat onlangs deur die Mooiuitsig-groep toegeken is. Die gevestigde familiebesigheid vorm deel van ‘n diverse groep rolspelers wat die Jakes Gerwel Trust en Bonnievale 418 ondersteun sodat leerders van Bonnievale die beste weergawe van hulself kan word.

“Onderrig en opvoeding ís die kragtigste sleutels om jou onmiddellike wêreld te verander, ‘n gemeenskap opnuut te anker en ‘n persoon sy waarde te laat besef” sê Olive Jonker, voorsitter van die Mooiuitsig-groep.

Sy sê die droom en stigting van die Jakes Gerwel Tegniese skool in Bonnievale sowat vyf jaar gelede het as‘t ware die spreekwoordelike lyn in die sand, veral wat leerders met ‘n leeragterstand betref, kom trek. Die unieke driestroom-model tegniese skool doen baanbrekerswerk en sy is opgewonde dat dié bloudruk alreeds na ander plattelandse dorpe uitkring. Die kurrikulum bied tegniese-, vaardigheids- en landbougefokusde vakke as opsies vir leerders om hul senior sertifikaat te behaal.
Bonnievale 418 — ‘n verlengstuk van die Jakes Gerwel Trust opleidingsprojek — se mikpunt is om werkloosheid onder die plaaslike jeug teen 2030 hok te slaan.

“Elke jongmens behoort toegang tot beroepsgerigte onderwys te kan hê. Dít, tesame met die nodige ondersteuning en leiding, stel hul in staat om hul indiensnemingspotensiaal te bereik. Elke kind moet ten volle aan die lewe te kan deelneem,” sê Curren Kühn, direkteur van Bonnievale 418.

FOTOBYSKRYF:
Die Mooiuitsig-groep kon vanjaar 14 tersiêre beurse vir leerders van Hoërskool Bonnievale en Jakes Gerwel Tegniese skool bewillig. Op die foto van links is sewe van hulle: Constant Tamboer (BScAgric – Universiteit van Stellenbosch), Kenan Aries (Ambag: Elektries – Sol-Tech), Maxine Filander (BEd –Universiteit van Stellenbosch), Tyra Ferus (BPharm – Universiteit van Wes-Kaap), Darren Kuhn (Ambag: Elektries – Sol-Tech), Josef Fortuin (BEd – Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie) en Ayran Arendorf (BCom Bemarking – Universiteit van Noordwes).